BRAAM HANEKOM

Braam Hanekom

Ontvang Bydraes Outomaties

Klik hier om alle Nuusperspektief bydraes outomaties te ontvang. Gebruik Outlook of enige RSS leser, bv. Google-Reader om dit te lees.

Woensdag 25 Februarie: Kan ons dan nog die Bybel glo? Godsdiens Aktueel Die Burger

Saam met al die vraagstukke en kwessies wat tans op die kerk se tafel is, is daar twee dieper vrae wat nie verbygegaan kan word nie: Watter rol behoort die Bybel nog in ons lewe te speel en net so belangrik, hoe moet ons die Bybel in 2012 lees en verstaan?

Terwyl daar natuurlik mense is wat komplekse vraagstukke sonder die Bybel hanteer, kan die kerk dit moeilik doen. Binne die gereformeerde tradisie, waarvan ek deel is, leer ons dat ons lewe op vier belangrike “fondamente” rus. Jy sou kon sê dat dit ons geestelike DNS vorm. Dit is die Skrif, genade, geloof en Christus. Gooi jy een weg is jy soos `n motor wat sluk-sluk loop omdat een silinder die gees gegee het.

En dis hier waar die probleem ontstaan. Kan ons nog die Bybel in die moderne era glo? `n Vriend van my sê dat hy die Bybel twee keer deurgelees het en toe opgehou het om dit te lees. Daar was net te veel goed wat vir hom nie sin gemaak het nie.

Kom ek gee nog `n eenvoudige voorbeeld. In Deuteronomium lees ons binne die bestek van `n paar hoofstukke: Vroue wat mansklere dra en omgekeerd word deur die Here verafsku (Deut. 22:5), opstandige, ongehoorsame kinders moet met klippe doodgegooi word (Deut: 21:20) en jy mag nie volstruisvleis eet nie! (Deut. 14:15) As laasgenoemde waar is, het die boere van Oudtshoorn groot moeilikheid. Hoe dan nou gemaak?

Erkende teoloë stem saam dat jy nie haastig met die Bybel kan omgaan nie. Maar wat beteken dit konkreet? Kom ek deel `n paar beginsels.

Eerstens moet jy die Bybel behoorlik ken. Na veertig jaar van omgang met die Bybel ontdek ek steeds “nuwe” tekste, dimensies en boodskappe. My oupa-grootjie kon vir jou hoofstukke uit die Bybel opsê. Een ding weet ek. Hy het die Bybel geken.

Afgesien daarvan dat jy taalkundig (vertalingsgewys) noukeurig met die teks moet omgaan, moet jy die teks tweedens ook in konteks lees. Elke teks is verpak in `n bepaalde literêre genre, het `n sosiale- en historiese agtergrond, maar staan ook in verband met ander tekste en moet so gelees word. Die Bybel ontsluit so homself.

Derdens is daar die beginsel van kontinuïteit en diskontinuïteit. Sommige tekste en temas kom slegs eenmaal in die Bybel voor. Ander temas kom slegs in die Ou- of Nuwe Testament voor en ander kom herhaaldelik en deurlopend voor.

Vierdens kan jy die Skrif net ten volle verstaan, wanneer jou denke en God se denke in ’n intieme verhouding en onder leiding van die Gees, in harmonie met mekaar is. Dit bly immers God se Woord. (1Kor.2:14-15)

Vyfdens behoort gelowiges na mekaar te luister. Dit was die moeilikheid met Apartheid. Ons wou nie na stemme van mede-gelowiges regoor die wêreld luister nie. Wysheid word in die breë gemeenskap van gelowiges gevind. Nie in jou eie klein hoekie nie.

Wanneer jy hierdie beginsels begin toepas, gaan daar nuwe wêrelde oop. Lekker lees aan die steeds mees gelese boek op aarde.

braam@kaapkerk.co.za

Bookmark and Share

Vrydag 20 Februarie: Ken ons nog ons mense?

Gisteraand is ek weer deur van my wyke wat ek in die gemeente bedien. Gewone ou huisbesoek. Miskien verstaan jy nie die gevoel nie. Om laatmiddag tuis te sit na ’n laaang dag op kantoor met baie dinge in jou kop en dan energie bymekaar te probeer maak om in jou motor te klim om onbekende en bekende mense te gaan ontmoet. Deesdae vir my meer onbekend. Jy weet nie wat jy gaan teëkom nie. Jou instink sê: Kan ek nie ook maar net ’n rustige aandjie tuis deurbring nie… maar dan gaan jy. Jy het immers nie die keuse nie.

En dan die verrassing. Jy kom na 2-3 ure op ’n vreemde manier vervuld by die huis. Jy het gewone mense met gewone issues ontmoet. Mense met wie jy nie sou kontak gehad het as dit van jou eie voor of afkeure afgehang het nie. Mense wat almal deel is van wat ons die “NG Kerk” noem. Mense met klein kinders, sommige half uit die kerk, sommige geskei en weer getroud, sommige met eie af vlerke. Sommige goed en ander nie altyd so goed nie, maar meer en meer kom jy agter hoe broos hulle geword het. Mense wat half verbaas vra: Maar waar kry jy die tyd om by ons uit te kom. Ons verstaan dit nie lekker nie. Jy werk mos nou in ’n “hoë” pos by die sinode!

… En jy besef skielik: Leierskap het die blootstelling baie nodig. Kerklike leierskap behoort meer tyd met “gewone mense” deur te bring. Nie net met die “Joodse Raad” nie.

 Ek dink dit vorm ’n mens op ’n andersoortige manier as wat persoonlike vriende en geesgenote, boeke, sinodale vergaderings en emails dit ooit kan doen.

Bookmark and Share

Maandag 16 Januarie: Kennis en aanvoeling

Kennis is kosbaar en daarsonder kan jy nie. Fyn formulering is egter net so belangrik om die kennis so te verpak, dat dit sin maak, reg gehoor word en nie aanstoot gee nie. Kennis sonder aanvoeling is min werd.

Bookmark and Share

Vrydag 13 Februarie : Woede

Woede is soms nodig, maar baie gevaarlik, nie vir die persoon op wie jy dit uithaal nie, maar vir jouself. ’n Kalm gees bereik dikwels veel meer as ’n woede-uitbarsting. Woede laat jou perspektief verloor en laat jou foute maak. Tog is daar ook iets soos “heilige woede”. Dit behoort na vore te kom as onreg of die waarheid op die spel is. Laat ons egter altyd maar altyd ons gees, ondergeskik maak aan die Gees van God wat ons kan en wil lei.

Bookmark and Share

Donderdag 12 Januarie: As ek tyd gehad het…

As ek tyd gehad het, sou ek graag wou skryf oor:
• Indiwiduele (menseregte) vs die regte van die gemeenskap. Die Bybel kies altyd vir laasgenoemde.
• Watter algemene norme die Woord aanlê wanneer daar etiese keuses gemaak moet word.
• Die kompleksiteit en vrae wat agter die gay-debat lê.
• Uitdagings vir die kerk rakende die hantering van die Bybel
• ’n Padlangs gesprek met dominees
• Die krisis met ons kinders
• Die wonders van Suid-Afrika

Gedagte vir die dag: Jy bou nie `n heel toekoms met stukkende kinders nie

Bookmark and Share

Vrydag 30 Desember: Brugbouers kan so help in 2012 – Die Burger Godsdiens Aktueel 28-12-11

Nico Nel vertel my die ander dag die storie van die onderwyser wat vir Jannie die volgende vraag gevra het: “As die Paarl 12 km van Wellington af is, hoe ver is Wellington van die Paarl af?” Jannie het net sy kop geskud. Die onderwyser het die vraag herhaal. Weer het Jannie net kop geskud. Daarop het die onderwyser aan Jannie gevra: “Wat op dees aarde is so moeilik aan die vraag?” Daarop het Jannie geantwoord: “Meneer sien, dit is nie altyd so eenvoudig nie. Kersfees is baie naby aan Nuwejaar, maar Nuwejaar is baie ver van Kersfees af!”

Die plattelanders sal op `n anderse manier die storie kan beaam. Vir hulle is die Kaap dikwels veel nader as wat die platteland vir die Kapenaars is.

Op `n vreemde manier het die storie my diep laat dink oor verhoudinge. Ons verhoudinge met mekaar en ons verhouding met God. Jy sien, ek gee soms meer om vir jou as jy vir my en omgekeerd. Met ons en God is dit ook nie anders nie. Die Woord leer ons dat daar tussen ons en God `n kloof is wat van die mens se kant onoorbrugbaar is. In dieselfde asem is God nader aan ons as die klere aan ons lyf. Die afgelope dae het ons Kersfees, God se naderkom aan ons, gevier: Christus, Immanuel, God met ons! Maar dit het implikasies vir ons in 2012.

Hulle sê my dat een brugbou-tegniek, is om die brug van twee kante te bou, totdat die twee kante presies in die middel bymekaar uitkom. Dit het ingenieurs al laat bloedsweet. ’n Mens wens dit kon so in alle verhoudings werk, maar soos gesê, soms is die afstand tussen jou en my verder as tussen my en jou. Waar laat dit ons?

Die Burger se onlangse jeugleierskonferensie, wat gehandel het oor die polariteite in ons samelewing, het my gehelp om verder hieroor te dink. Op die ou end het jy ware leierskap nodig om ’n besluit te neem dat daar ’n brug gebou moet word. Iemand moet die inisiatief neem. Die klowe in ons samelewing is steeds groot, maar Christus het ons kom wys hoe daar gebou kan word. Brugbouers kry soms baie seer, maar hulle gaan leef onder die mense na wie toe hulle die brug wil bou. Hulle ag hulself nie belangrik nie. Hulle bou nie ego’s en profiele nie, maar brûe. Hulle kan jammer sê én vergewe, tot sewentig maal sewe keer. Hulle verstaan kompleksiteit, kan meer as een ding gelyktydig vashou, fyn luister en tree met groot wysheid en sensitiwiteit op. Hulle praat nie as hulle kwaad is nie en kies hulle woorde fyn. Hulle jaag die waarheid meedoënloos na en vermy die leuen en halwe waarhede. Hulle leef die droom dat die kloof oorbrug kan word.

Daar is veel meer wat ons sou kon sê, maar op die ou end bid hulle en rus hulle in God, wat self die Meesterbouer was en is en kom wys het hoe dit gedoen word.

braam@kaapkerk.co.za

Bookmark and Share

25 Desember Kersfees

Op hierdie Kersdag is dit my diepste wens om almal wat die moeite doen om Nuusperspektief te lees, van harte `n baie geseënde Kersfees toe te wens. Mag julle vrede beleef en verder sien as wat selfs die skaapwagters en Josef en Maria kon sien. Mag julle verstaan en glo. Mag die ondeurgrondelike wonder van God wat mens word en onder ons kom woon, jou ook op hierdie dag en in 2012 oorweldig. Mag Christus ook opnuut IN jou gebore word.
Op hierdie dag dus net vrede en liefde toegebid.

Bookmark and Share

Donderdag 15 Desember: Hoe noem ons mekaar?

Gister het ek ’n heerlike ontmoeting met die Aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba gehad. Hy is werklik ’n merkwaardige en ’n waardige man. Hy is sag en warm met ’n besonderse intellektuele kapasiteit. Tog val dit my elke keer op dat die mense om hom, sy personeel en kollegas, hom aanspreek as “Your Grace” Dit is tradisie in die Anglikaanse kerk. Toe wonder ek – tong-in-die-kies, hoe ’n mens ek sou wees as mense my die heeldag, “your grace” sou noem. Dit moet mos afgee op ’n mens. Dalk was die Engelse nie heeltemal so dom nie. En hoe sou die mense om jou word as jy hulle die hele tyd op ’n sagte manier aanspreek. “Môre jou vriendelike mens!” Miskien moet ons daaroor dink. Ons is soms nogal daarop uit om die ander een sleg te sê en dan word hulle so….

Bookmark and Share

Dinsdag 6 Desember: Die NGK in die spervuur

Terwyl dit nou al hoe duideliker word dat dit nie net die NGK is wat worstel met die gay kwessie nie, maar eintlik alle kerke in Suid-Afrika, kom die vraag onwillekeurig by `n mens op, oor waarom die NGK telkens alleen oor hierdie kwessie uitgesonder en geteiken word. Opskrifte in die pers sal die kerk as “argaies” beskryf en lesers se argwaan sal ook nie wegbly nie. Dat die saak verder beredeneer moet word is tog duidelik, maar hoe?

Een teorie is dat die Afrikanergemeenskap sy eie verlede nog nie na behore verwerk het nie en steeds met `n massiewe derm-uitryg-oefening besig is. Sommige blanke Afrikaanssprekendes (laat ons liewer nie die woord Afrikaner gebruik nie) skaam hulle steeds vir hul verlede en wil hulle met geweld daarvan distansieer. Dit het die ou NP ervaar. Volkskas het gesneuwel. Die NGK is duidelik in die visier. Ander instellings soos Sanlam en selfs Die Burger moet baie fyn trap. `n Mens kry amper die gevoel dat daar soms oor reageer word in `n desperate poging om die skade van die verlede te probeer herstel. Dit gaan nog jare duur om die skade wat apartheid aan almal se onderbewuste aangerig het, reg te maak. Mag ons intussen die wysheid kry om kop te hou.

Bookmark and Share

Donderdag 1 Des: Is jy ook moeg vir belastings

Geld, of laat ek liewer sê, die wêreld se moeilikheid met geld, bly maar in die nuus. Voor in die koor van moeilikheidmakers, is die Grieke wat `n hele paar bankiers en regerings slapelose nagte gee. Die ironie is dat jy blykbaar steeds `n Porche om elke hoek en draai in Griekeland sien staan. Een van die groot redes vir hul moeilikheid is dat daar oor jare `n kultuur by gewone burgers ontstaan het om nie belasting te betaal nie. Nou kyk, belasting was maar altyd `n kwessie. George Bush het op sy dag dit goed gedink om $1,5 triljoen se belastingkortings aan te kondig en selfs Albert Einstein het al gesê dat belastingvorms heeltemal te moeilik is vir hom om te verstaan.

Terselfdertyd was dit verlede week belasting-sperdatum-tyd hier by ons en by SARS se kantore het mense in lang toue gewag om hul vorms in te dien. Dit bly vir my ongelooflik om die mense so geduldig te sien staan en is sekerlik `n teken dat daar baie mense in ons land is, wat met trots, lojale, verantwoordelike Suid-Afrikaners is. Tog knaag die vraag in `n mens se agterkop: Waarom sou ek belasting betaal as al die aanduidings daar is dat die regering miljoene rande vermors? Waarom moet ons tot 40% belasting betaal terwyl die Amerikaners nie eers 20% betaal nie? Die kort antwoord is: Weet jy watter moeilikheid Amerika as land met hulle skuldlas het?

Die vraag oor belastinggeld kom natuurlik nie van gister af nie. Jare terug het die Fariseërs op `n dag vir Jesus met `n strikvraag probeer vastrek deur aan Hom te vra of die Jode belasting aan die keiser moet betaal. Verwysend na die keiser se kop op `n muntstuk het Hy gesê: “Betaal aan die keiser wat die keiser toekom en aan God wat God toekom.” (Matt 22) Ek weet ons belastingopgawes is al beskryf as van die mees kreatiewe fiksie wat bestaan, maar as ons in `n volhoubare, ontwikkelende land wil woon, moet ons ons belasting betaal. Oor die geld wat vermors word? Daaroor mag ons en moet ons hard en aanhoudend bly praat – tot ons gehoor word.

Maar die een sinnetjie wat ons dalk mis, is die sinnetjie wat sê dat ons aan “God moet gee wat God toekom.” Dit gaan hier sekerlik oor veel meer as net geld. Dit laat my egter aan die woorde van Richard Foster dink: “Die sin van die lewe lê nie in wat ons besit nie, maar die wete dat ons in God leef, beweeg en asemhaal.”

Bookmark and Share
Page 1 of 1612345...10...Last »